My juwele ontstaan vanuit dieselfde hand en denke as my visuele kunspraktyk.
Ek benader silwer nie bloot as ’n edelmetaal nie, maar as ’n beeldhoukundige materiaal wat gevorm, gesny en gedra kan word.
Die Aurum-lelies ontwerpe is oorspronklik in was gemodelleer en daarna in silwer gegiet en verwerk in drabare items. Die organiese vorme dra die spore van die hand en behou ’n gevoel van wording eerder as volmaaktheid.
Die drie groot handgesaagde sterling-silwer kruise is geïnspireer deur die visuele taal van ou Koptiese kruisvorme. Hulle is doelbewus swaar, robuust en asimmetries, hangend aan sterk handgemaakte silwer onewe kettings. Hierdie stukke funksioneer as dra-bare
objekte, maar ook as klein beeldhouwerke wat temas van veerkragtigheid, beskerming, herinnering en spirituele verbondenheid oproep.
Vir my bestaan daar geen vaste grens tussen beeldhouwerk, juweel of skilder tekening nie. Sommige kunstenaars in die uitstalling herverbeel juweliersvorme in tweedimensionele werke, wat verdere gesprekke skep tussen voorwerp en beeld, aanraking en waarneming. Binne hierdie dialoog word die juweel meer as versiering: dit word ’n draer van betekenis, geheue en sintuiglike ervaring.